Geloof maak salig

Geloof maak salig

Ek wens dat ek meer oortuigend in, wel regtig enigiets, kan glo. Ek is stilletjies jaloers op die feit dat ander doelgerig, gefokus en byna naïef (of dit is hoe ek dit ervaar) in dinge kan glo. Ek hou aan die dun lewenslyn van (spirituele) geloof vas en om eerlik te wees, kan ek nie eers sê dat ek gevolglik liewer op mense, wetenskap of ʼn ekonomiesesisteem staatmaak om van die wêreld sin te maak nie. Ek vind mense tegelykertyd verskriklik interessant en hartverskeurend teleurstellend. Gevoglik is die wetenskap en ekonomie, wat op menslike bevoegdheid staatmaak, vir my ʼn wankelende alternatief tot geloof in “iets groter”. Bo en behalwe die uitdagings van spirituele geloof, is dit vir my moeilik om te glo in meeste van dié dinge wat funksionaliteit en struktuur aan ʼn samelewing bied: die keuse van ʼn lewenslange eggenoot (of dat die huwelik enigsins nog ʼn “ding” is); dat dit OK sal wees om voort te plant; die uitkies van leiers en die blinde vertroue dat dié keuse nou maar sal moet doen.

Ek wil ook kan glo dat as ék ʼn vegan word, dit ʼn verskil sal maak. Ek wil kan glo dat mense wel betyds die erns van die saak sal besef en aardverwarming sal teëwerk, óf alternatiewelik dat Jesus weer sal kom voor dit werklik onuitstaanbaar warm word. Ek is nydig dat my vriendin, met die ironiese tersyde “ek het gedink jy sal daai ene geniet Emsie”, in haar voice note kan sê “To live is Christ, to die is gain” (ek is nog altyd nie 100% seker wat hierdie uitdrukking beteken nie) of dat Elon Musk verbete, sonder dat dit blyk of dit hom pla dat ander sy sielkundige welstand betwyfel, aan sy kolonialiseringsplan van Mars kan bou. As ʼn intuïtiewe reaksie hierteen, wonder ek in sulke oomblikke hoe my en dié voice-note-vriendin se siening van Christus so vêr verwyderd is van mekaar. Ek kan nie help om te wonder of dit nie maar net nóg ʼn mantra is wat voorgehou word as wapenrusting teen die onverklaarbare loop van die lewe nie? Ek kan nie eers begin om Musk se gedrewe entrepreneursgees te bewonder nie want ek is verstom oor die feit dat enigiemand nog toegelaat word om enigiets te kolonialiseer. Hoe gaan Mars enigsins anders as hier ter aarde wees? Nou dat die idee van ʼn lappie grond eien wat nie aan ons behoort nie minder populêr raak hier, op ons eerste planeet, gaan ons dit nou maar elders probeer totdat ons alles in sig vernietig het?

Ek staan egter nie net op die kantlyn en kritiseer ander se oortuigings nie, nes elke ander een het ek ook al ʼn paar onsinnighede opgedroom. Ék wil glo dat Jesus werklik ʼn moerse cool dude was, wat oopkop oor goed gedink het en dikwels té veel wyn gedrink het. Ek wil my kan verbeel dat die profeet Mohammed ook in die prentjie was (hy het nie saam wyn gedrink nie though), én hulle was tjommies (ignoreer maar die obvious tydlyn teenstrydigheid). Jesus en Boeddha was eintlik ook op ʼn spirituele vlak connected en het dikwels notas uitgewissel oor self-sacrifice. Ek wil glo die Here is chilled met homoseksualiteit (of enige seksualiteit for that matter). Ek wil glo dat mense eintlik goed is en dat ons nie net blindelings aan morele teachings vashou wat na eeue in ons kultuur ingegraveer is nie. Ek wil glo dat ek myself omring met intelligente mense wat anders as ek glo, en dat ek gevolglik ʼn gesonde en uitgedaagde opinie van my eie vorm.

…ek wil kan glo dat ék reg en ingelig glo…

Hier is egter waar die probleem insluip. Ek kan nie selfversekerd  en onvertwyfeld glo dat wat en hoe ek glo is reg nie, want dis nie hoe ek glo nie. Ek is van nature skepties en pragmaties, danksy nature en nurture. Sodoende is ek verplig om ook oor my eie oortuigings te twyfel, almal van hulle. Geloof maak wel salig, dít glo ek, en miskien is ek meerendeels desperaat op soek na daardie saligheid.

Vir tyd en wyl, wandel ek maar onseker op die aarde rond (nie heeltemal oortuig dat die bietjie geloof wat ek oor het sal lei tot ʼn wonderbaarlike hiernamaals nie), vir good measure probeer ek my bes om minder my motor te gebruik, ek herwin my plastiek en eet nie op Maandae vleis nie. Ek bid soggens dat die Here my genadig sal wees in my wankelende geloof, en ek hoop dat ek Sondagoggend voor kerk ʼn kans sal kry om Mark Manson se The Subtle Art of Not Giving a Fuck klaar te lees.



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *